KURUMAN – Vier verdagtes is hier vir ontvoering, moord en veediefstal in hegtenis geneem. Die verdagtes, tussen 40 en 80 jaar oud, sal Woensdag in die landdroshof in Kuruman verskyn.
Vlak graf
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê: “Die polisie-ondersoek, gelei deur die Kuruman-eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, het Maandag 23 Desember ’n man se liggaam ontdek wat in ’n vlak graf in die bosse in die Galotlhare Village naby Kuruman begrawe is.”
Skape gesteel
Na bewering het die verdagtes die slagoffer (48) vir sy vee doodgemaak en hom in ’n vlak graf begrawe. Die verdagtes het na die oorledene se skaapkraal by die veepos in die dorp gegaan en 13 skape in ’n wit Ford Ranger-bakkie gelaai. Die bakkie het op ’n grondpad sonder brandstof gaan staan en die verdagtes is gearresteer. Al 13 skape was nog op die bakkie.
Die oorledene is verlede Donderdag laas gesien.



