VANDERBIJLPARK – Die polisie hier het gister op ’n klag van huishoudelike geweld gereageer. Tydens hulle ondersoek by die huis het polisielede op 43 vuurwapens van verskillende kalibers en ongeveer 2000 rondtes ammunisie afgekom.
Dispuut lei tot ontdekking
Lt.-genl. Fannie Masemola, polisiewoordvoerder, sê ’n vrou het die polisie gebel omdat sy ’n dispuut by haar huis gehad het. “Terwyl die polisie in die huis was, het hulle wapens en ammunisie ontdek.”
Geen dokumentasie nie
Masemola sê: “Hy kon nie ’n bevredigende antwoord gee waarom hy so ’n groot hoeveelheid vuurwapens en ammunisie aanhou nie. Daar is ook nie behoorlike dokumentasie gelewer om die stoor van wapens te staaf nie.”
Betrokke by misdaad
“’n Ondersoek word ingestel oor die oorsprong van die wapens en om vas te stel of enige van die wapens tydens ’n misdaad gebruik is.”
Die verdagte sal binnekort in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn op aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.



