KIMBERLEY – ’n Nagklub in Longstraat se musiek maak inwoners van Diamantpark mal. Inwoners sê daar word al vir minstens ses weke van 12:00 af tot in die vroeë oggendure kliphard musiek gespeel.
Inwoners van die gebied sê hulle kry geen rus nie. “Die musiek speel al vir ses weke aaneen, sonder ophou. Dit gaan tot in die middernagtelike ure aan. Ons kry geen rus nie. Oor naweke is dit baie erger,” vertel ’n inwoner aan FiND iT.
FiND iT het die eienaar van die nagklub gekontak en hy het bevestig dat hy self ’n paar klagtes van inwoners ontvang het. Hy sê die nagklub het reeds die musiek deur die week sagter gesit omdat inwoners daarop aangedring het. Hy het ook vir hulle gesê dat dit oor naweke erger sal wees, maar dat die musiek stiptelik om 02:00 sal ophou.



