Darrin (39) en Tersia (37) Buffet van Kimberley het ’n tweede kans op liefde gekry en weer geluk by mekaar gevind na hulle egskeiding in 2014. Hulle gesels met FiND iT oor die hartseer waardeur hulle is en gee ’n boodskap van hoop aan ander paartjies.
Ontmoeting
Die paartjie het in 2000 ontmoet en was saam in Hoërskool Floor. Tersia sê sy het Darrin met die eerste oogopslag liefgekry. Hulle het in dieselfde straat gebly en mekaar daagliks gesien.
Darrin sê Tersia kon nie meer wag nie en het iemand gevra om hom te vra of sy sy meisie kan wees. Hulle het in 2007 vir die eerste keer getrou en die paartjie is geseën met ’n dogter, Aimee (16) en ’n seun, Dean (11).
Egskeiding
Die paartjie se paaie het egter in 2014 geskei toe hulle deur ’n egskeiding is. Darrin sê hulle het baie koppe gestamp. “Ons het op ons eie begrip staatgemaak en het nie saam met God ons huwelikspaadjie gestap nie,” vertel Tersia.
Wou nie werk met ander nie
Hulle vertel hulle altwee het na die egskeiding ander verhoudings gehad, maar dat dit eenvoudig net nooit wou werk nie.
Tersia vertel almal wou altyd gehad het hulle moes weer by mekaar uitkom, maar hulle was altwee hardkoppig en wou nie hoor nie. Darrin sê hulle kinders se gebede het ook ’n verskil gemaak. “My seun het ons elke dag gevra wanneer ons weer by mekaar gaan uitkom en dat hy na die tye verlang wat almal saam was.”
Tweede kans
Darrin het vir Tersia op die 3de November 2019 in Taberna Dei-kerk gevra om weer met hom te trou. Die paartjie het vir ’n tweede keer op 12 Desember 2019 getrou.
“Hierdie keer val alles net in plek, te danke aan God,” sê Tersia.
Wat was die moeilikste?
Darrin sê: “Die moeilikste vir my was die feit dat jy lief is vir daardie persoon, maar dit lyk of sy nie dieselfde voel nie. Ons kon letterlik nie met mekaar praat nie. Soms was ek oortuig sy was klaar met my en het aanbeweeg. Hoekom was dit so maklik vir haar as dit so moeilik vir my was?”
Tersia sê: “Vir my was dit die moeilikste dat ons so ver uitmekaar uitgedryf het dat ons nie eers meer ordentlik met mekaar kon wees of met mekaar kon praat nie.”
Boodskap aan ander
“My advies is om vir God eerste in julle huwelik te stel. Met die Here aan jou kant is enigiets moontlik,” vertel Tersia.
“Wat ek vir ander paartjies wil sê, is niks is net wit of swart in ’n huwelik nie. Daar is baie grys areas. Daai areas verg geduld, liefde, standvastigheid, vergifnis en werk. Sonder God as jul middelpunt kan dinge baie onbeheerbaar word. Moet nooit jou vrou of man met enigiemand bespreek nie, wees net onvoorwaardelik lief vir mekaar. Dis makliker om lief te hê, as om te haat,” vertel Darrin.





