BLOEMSPRUIT – Saterdag 14 Desember omstreeks 22:00 het twee verdagtes van 30 en 31 jaar oud twee slagoffers in hul huis aangeval. Een van die verdagtes is tydens die voorval raakgeskiet en is op die toneel dood verklaar.
Kol. Thandi Mbambo van die Vrystaat-polisie sê: “Die verdagtes het na bewering toegang gekry deur die diefwering en die deur oopgebreek. Intussen het die alarm afgegaan. Terwyl die inbrekers in die huis was, het hulle die slagoffers vasgebind en aangerand.”
“Lede van Senforce-sekuriteit het op die alarm gereageer en het die twee verdagtes nog in die huis gevind. Die verdagtes, wat met ’n panga en hamer gewapen was, het na bewering die twee veiligheidswagte aangeval. Veiligheidswagte het een van die verdagtes geskiet en hy het op die toneel beswyk. Die veiligheidswagte het daarin geslaag om die tweede verdagte in hegtenis te neem.”
Die gearresteerde verdagte sal op Dinsdag 17 Desember 2019 in die landdroshof in Bloemfontein verskyn. Die slagoffers van 70 en 75 jaar oud is na ’n plaaslike hospitaal geneem vir mediese behandeling.



