BULTFONTEIN – ‘n Elfjarige Bloemfonteinse dogter se 23-jarige verkragter, Koos Kula, is lewenslank tronkstraf hier in die streekhof opgelê.
Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die voorval het omstreeks 19:00 op 28 Julie in Phahameng in Bloemfontein plaasgevind.
Die slagoffer en haar broer (7) het by die slagoffer se huis gespeel. Mbambo sê die verdagte het aangedring om halfpad saam met die twee huis toe te stap omrede dit laat was. Op pad het hy die kleinboet gestuur om gemmerbier te gaan koop.
Hy het met die slagoffer in ’n ander rigting na Serope geloop, waar hy haar seksueel aangerand en met die dood gedreig het, sê Mbambo. Hy het haar na sy oom se shantie gelok en haar verkrag.
Sy sê die slagoffer se broer het teruggekeer na die beskuldigde se huis. Hy het vir die beskuldigde se moeder gesê hy weet nie waarheen die twee gegaan het nie. Die ma het agterdogtig geword en onmiddellik die polisie ontbied.
Mbambo sê sy het die polisie na die shantie beduie. Die polisie het die verkragter kaal op die toneel betrap, waar die slagoffer geskree en gehuil het om hulp.
Konst. Thabiso Makhoba het die beskuldigde in hegtenis geneem en gesorg die verkragter bly tot sy vonnisoplegging in aanhouding.



