NOORDWES. – Xander Bylsma (21), wat van die moord op Sharnelle Hough, sy eksmeisie en Marna Engelbrecht, sy kleinniggie, beskuldig word, se verhoor duur steeds voort. Die moontlikheid bestaan egter nou dat Hough se nuwe kêrel by die moorde betrokke kon wees.
Hough (17) en Engelbrecht (16) se liggame is op 26 Mei 2018 in die koshuis van die Hoërskool Stella gevind. Hough het aan ’n nylontou aan ’n trapreling gehang. Engelbrecht se liggaam is in die badkamer, met ’n handsakband om haar nek, gevind. Albei die leerders is verwurg.
Hough en Brandon Victor (19) was ten tyde van die moorde romanties betrokke.
Koshuiskamer
Volgens Maroela Media het Victor gister tydens die hofverrigtinge bevestig hy het die aand van die moorde by Hough en Engelbrecht in hulle koshuiskamer gaan kuier.
Oproep van Bylsma
“Hy verduidelik dat hy omstreeks 23:15 na Sharnelle en Marna se kamer gegaan het. Ons het koffie gedrink, gekuier en gesels,” word berig. “Volgens Victor het Sharnelle se foon op een van die beddens gelê toe daar ’n oproep van Bylsma deurkom. Hy wou vir haar klere bring in ’n poging om haar te sien.
“Sy het gesê die deur is nie oop nie en dat hy die klere vir Marna deur die venster op die onderste vloer van die koshuis moet gee. Hy het vir haar gesê hy sal ’n plan maak om die deur oop te maak. Sy het gesê sy sal vir Marna stuur om die klere by die venster te kom haal. Hy het begin hard praat teenoor haar. Hy het vir haar gesê ‘ek hoop jy gaan tevrede wees met wat ek vanaand gaan doen.’ Die gesprek was nie langer as twee of drie minute nie.”
Die twee het mekaar glo net ná 01:00 gegroet.
Nuwe kêrel
Volgens Maroela Media het Bylsma se regspan gister in die Mmbatho-hooggeregshof verklap dat hulle gaan aanvoer dat die moontlikheid bestaan dat Hough se nuwe kêrel betrokke kon wees by die moorde op dié twee boesemvriende.
Ontken
“Bylsma ontken dat die betrokke gesprek waaroor Victor getuig het, ooit plaasgevind het. Hy erken wel dat hy die betrokke aand ná 01:00 na die koshuis toe gegaan het en vir Sharnelle gevra het om buitetoe te kom om oor hulle probleme te praat. Hy sê hy is toe later weg en Sharnelle is terug in die koshuis in,” word berig.
Die hofsaak duur vandag voort.



