Drie mans vasgekeer in tenk, gered

Deel hierdie storie / Share this story

DURBAN. – Talle reddingswerkers het op die toneel gehelp om drie mans, wat binne-in ’n ondergrondse tenk vasgekeer was, vanoggend hier te red.

Hierdie ondergrondse tenk is naby Wiltin Crescent in Umhlanga Ridge, Durban, geleë.

Diesel en olie

Shawn Herbst, Netcare 911-woordvoerder, sê hulle het vanoggend omstreeks 10:32 op hierdie berigte reageer.

“Verslae van die toneel dui aan dat drie werkers wat ’n ondergrondse versameltenk skoongemaak het, wat glo diesel en olie bevat, vermoedelik deur die gasse oorval is.”

Redding

Herbst sê die SAPD se soek- en reddingsdiens, brandweer- en reddingsdienste in Durban en die metropolisie was almal op die toneel en het ’n tou- en leerstelsel met asemhalingsapparate opgerig om binne-in die tenk te kom en die drie volwasse mans te red.

Behandeling

“Al drie pasiënte het asemhalingsprobleme gehad en het gevorderde lewensondersteuning-intervensies nodig gehad om te stabiliseer. Nadat hulle op die toneel behandel is, is die pasiënte deur verskillende ambulansdienste na die hospitaal vervoer vir verdere behandeling.”