NOORDWES. – Xander Bylsma (21) wat van die moord op sy eksmeisie en sy kleinniggie beskuldig word, het vandag weer in die Mmabatho-hooggeregshof voorgekom. Hy het steeds skuld ontken.
Sharnelle Hough (17) en haar vriendin, Marna Engelbrecht (16), se liggame is op 26 Mei verlede jaar in die koshuis van die Hoërskool Stella gevind. Hough het aan ’n nylontou aan ’n trapreling gehang. Engelbrecht se liggaam is in die badkamer, met ’n handsakband om haar nek, gevind. Albei die leerders is verwurg.
Getuienis
Volgens Netwerk24 se berig het Ronnie Hough, Sharnelle se pa, getuig. “Ronnie Hough het sy tienerdogter se voete vasgehou terwyl sy broer, Louis, die tou om haar nek van ’n trapreling losgesny het.”
Matrone
Adv. Johan Smit SC, vir die staat, het onder andere Christelle Jooste, destydse assistent-matrone van die koshuis, geroep om te getuig. “Marna en Sharnelle was die enigste meisies wat op Vrydag 25 Mei in die koshuis agtergebly het omdat hulle die volgende oggend netbal op Koster sou gaan speel. Hulle het gevra ek moenie die veiligheidshek by die meisieskoshuis sluit nie omdat iemand vir hulle klere gaan bring, maar hulle het nie gesê wie nie,” word berig.
Jooste het getuig toe sy die volgende oggend om 05:30 wakker word en Marna en Sharnelle kort daarna wou wakker maak, het sy iets uit die hoek van haar oog gesien.
Netwerk24 berig Jooste het gesê toe sy opkyk, het sy Sharnelle aan die trapreling sien hang.
Badkamer
“Kapt. Wynand Human het ook getuig hulle het aanvanklik na Marna gesoek en haar eindelik in ’n badkamer op die grondvloer aangetref. Human het gesê sy het vooroor in ’n gehurkte posisie teen die bad se rand gelê. Daar was ’n belt of tou om haar nek,” berig Netwerk24.
Ontken skuld
Daar word ook berig dat Bylsma steeds skuld ontken en beweer hy is voorgesê en gedreig om ’n bekentenis af te lê en uitwysings te doen waarin hy erken het hy het Sharnelle opgehang en Marna versmoor.



