KIMBERLEY. – Desiree Abrahams (32), ’n ma van twee, probeer nog die dood van haar babadogtertjie verwerk, terwyl haar tweejarige seuntjie op haar skoot lê.
Sy het gisteroggend ná 06:00 ligte kontraksies begin ervaar, maar teen 08:00 het die pyn al erger geword. Sy het geweet iets is nie reg nie en het dadelik die provinsiale ambulansdiens gekontak. Haar water het by die huis gebreek en sy het op haar bed, by die huis, gekraam. Kort daarna het haar babatjie nie meer asemgehaal nie.
Hospitaal
“Die ambulansdiens het elke keer as ons gebel het gesê hulle gaan ’n ambulans stuur, maar die ambulans het eers ná 13:00 hier opgedaag. Ek en my oorlede dogtertjie is hospitaal toe vervoer waar die dokter my ondersoek het.”
Terwyl sy in die verte staar, sê sy sy het nie ’n probleem met die hospitaal nie, maar wel met die ambulansdiens. “Die ambulans het hier opgedaag met vier studente wat moet leer.
Stilgeboorte
“Die paramedikus het vir my gesê dit was ’n stilgeboorte, maar ek weet in my hart dit was nie. My dogtertjie het daardie oggend nog binne-in my beweeg. Ek het haar gevoel. Toe my babatjie gebore is, het ek na haar gekyk en gesien hoe haar magie op en af beweeg. Sy het asemgehaal. Met elke kliniekbesoek het hulle gesê my babatjie is normaal en alles lyk goed. Ek het op 32 weke gekraam, alhoewel my kraamdatum eers in Januarie 2020 was.”
Regstappe
Sy sê sy het geen ander keuse as om regstappe teen die ambulansdiens te neem nie. “Ek het vir maande vir my babatjie se geboorte gewag en nou moes ek huis toe kom, sonder my dogtertjie. Ek glo vas dat indien die ambulans betyds was, sou ek huis toe gekom het met my babatjie.”
Haar naam
Abrahams sê sy het aan soveel name gedink vir haar dogtertjie, maar Desmonique het by haar vasgesteek. “Dit sou my dogtertjie se naam gewees het, maar dit maak nou selfs te seer om dit hardop te sê.”



