Bejaarde vir minderjarige se verkragting gevonnis

Deel hierdie storie / Share this story

KURUMAN. – ’n Bejaarde man (73) is hierdie week vir die verkragting van ’n 11-jarige meisie skuldig bevind en gevonnis.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê dit het tydens die hofverrigtinge aan die lig gekom dat die man die meisie een keer probeer verkrag het en haar tussen November en Desember 2014 twee keer verkrag het.

Dreigemente

“Die beskuldigde het gedurende die nag in die slagoffer se kamer gegaan, terwyl sy slaap en haar verkrag. Hy het gedreig om haar dood te maak of te beseer as sy skree of enige persoon van die voorvalle vertel.

“In ’n ander voorval het die beskuldigde die slagoffer gedwing om saam met hom na ’n veld te gaan om hout te gaan haal en haar verkrag. Die derde voorval, waar hy haar probeer verkrag het, was sy poging nie suksesvol nie.”

In hegtenis geneem

Ramatseba sê hy is onmiddellik in hegtenis geneem nadat die meisie haar ma van hierdie voorvalle vertel het, waarby sy die polisie in kennis gestel het.

“Die getuienis van die slagoffer en forensiese getuienis het die beskuldigde aan die misdade van verkragting en poging tot verkragting, waarvoor hy aangekla is, gekoppel.

Vonnisse

“Die beskuldigde is in die Kuruman-streekhof skuldig bevind en soos volg gevonnis:

Vyf jaar gevangenisstraf vir verkragting, 15 jaar gevangenisstraf vir verkragting en agt jaar gevangenisstraf vir poging tot verkragting. Hierdie vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.”

Seksoortreders

Ramatseba sê die man se naam sal ook in die register vir seksoortreders opgeneem word. “Hy is ook onbevoeg om ’n vuurwapen te besit, verklaar.”