Glo steeds tydelike werker ná 12 jaar

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Talle inwoners wat vir die minister van gesondheid werk, het buite die kantoor in Memorialweg bymekaargekom om hulle ongelukkigheid, oor ’n memorandum wat hulle op 4 November 2019 ingedien het en steeds geen terugvoering oor het nie, weer te gee.

Lerato Black (48) sê sy werk alreeds 12 jaar vir die minister van gesondheid, maar word glo steeds nie as ’n permanente werker geklassifiseer nie en verdien na bewering steeds die minimum loon van R3 500 per maand. “Baie mense werk al tussen 15 en 18 jaar hier, maar verdien nog ’n ‘tydelike werker’ se salaris.”

Lebogang Jaki (31) wat ook al ses jaar diens het, word glo ook die minimum loon betaal. “Ons het ook geen voordele nie. Hulle het verlede jaar UIF vir elkeen wat hier werk betaal, maar het glad nie hierdie jaar betaal nie. Vrouens wat op kraamverlof moet gaan, word glad nie betaal nie.”

Jaki sê Lebogang Majaha, woordvoerder vir die minister van gesondheid, was reeds daar om met hulle te praat. “Hy het gesê hulle sal teen Maandag vir ons antwoorde kan gee oor hierdie saak.”

FiND iT het die minister van gesondheid se kantoor probeer skakel, maar kon geen antwoord kry nie.