Twee in hegtenis vir diefstal van Bonsmaras

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP. – Twee mans, tussen die ouderdom van 30 en 47 jaar oud, is gister op Heuningvlei in hegtenis geneem omdat hulle glo vee gesteel het.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die veediefstal-eenheid het inligting opgevolg en het ’n vragmotor, wat vermoedelik 12 gesteelde Bonsmara-beeste gelaai het, agtervolg.

“Volgens die inligting is die beeste van ’n plaas in Severn gesteel.”

Ramatseba sê nadat hulle nie die polisiebeamptes van die nodige dokumentasie kon voorsien nie en ook nie duidelikheid kon gee oor waar die beeste vandaan kom nie, is die twee onmiddellik in hegtenis geneem.

“Die waarde van die beeste word op R80 000 geskat en die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Kuruman-landdroshof verskyn.”

Hy sê die eienaar van hierdie vee het die polisie se pogings om sy vee terug te kry, geprys.