Kimberley-toetssentrum is sonder elektrisiteit nadat kragkabels na bewering gesteel is.
Volgens ’n inwoner van die stad en eienaar van ’n bestuurskool het niemand by die toetssentrum glo die probleem gerapporteer nie. Sy het egter self vir Sol Plaatje-munisipaliteit gebel om die probleem aan te meld. “Ek het besluit om self uit te vind wat aangaan omdat ons besigheid en enige ander bestuurskool benadeel word as die toetssentrum nie krag het nie.”
’n Assistent van die bestuurskool het later laat weet dat kragkabels na bewering gesteel is. “Indien dit waar is dat die kragkabels wel gesteel is, gaan dit ’n groot probleem vir bestuurskole veroorsaak, veral met afsprake, want die bestuurderstoetse en afsprake kan net tot 20 Desember plaasvind, dan sluit hulle.”
FiND iT het navraag by Sello Matsie, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, gedoen, maar het nog geen terugvoering ontvang nie.



