Twee in hof vir R426 000 se dwelms

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – ’n Man en vrou is hier in hegtenis geneem nadat sowat 24 kg dagga en 400 Mandrax-tablette in hulle besit gevind is.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die vroulike verdagte is in hegtenis geneem by ’n huis in Galeshewe nadat hulle tydens ’n soektog op 24,25 kg saamgeperste dagga en 250 Mandrax-tablette beslag gelê het. “Die beraamde straatwaarde vir hierdie dwelms is sowat R420 000. Die vroulike verdagte sal na verwagting binnekort in die Galeshewe-landdroshof verskyn.”

Ramatseba sê tydens ’n ander soektog is ’n manlike verdagte met 150 Mandrax-tablette, wat na raming R6 000 werd is, in hegtenis geneem. “Hy is in die middedorp van Kimberley, langs die Ritchie-taxistaanplek, in hegtenis geneem en sal ook binnekort in die landdroshof in Kimberley verskyn.”

Die ondersoek duur voort.