RITCHIE. – Die gemeenskap hier het gisteraand weer ’n vergadering gehou oor die twee memorandums wat hulle reeds op 30 September 2019 aan Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, oorhandig het.
Vir die eerste memorandum het hulle die premier 14 dae en vir die tweede memorandum sewe dae gegee om met antwoorde na hulle toe terug te kom.
Elize Niemann, lid van die DA, sê die gemeenskap het tydens gisteraand se vergadering gesê hulle is kwaad. “Indien die premier nie teen Vrydag terugvoering geen nie sal hulle moontlik weer Sondagaand met betogings begin.”
Memorandums
In hierdie memorandums is gevra vir meer behuising, dat die paaie geteer word, elektrisiteit en water voorsien word vir alle informele dele en dat toilette wat reeds installeer is, maar nog nooit gewerk het nie, ook herstel word. Hulle versoek ook dat ’n forensiese ondersoek ingestel word om uit te vind wat van Ekapa se skenking van R13 miljoen aan Ritchie gebeur het. Daar word ook versoek dat Norman Hammer en Bonsile Makhamba as raadslede verwyder word en dat daar ondersoek ingestel word na hulle leefwyse.



