BOSHOF. – Die vier beskuldigdes wat vir die brutale moord op Sakkie en Ina van der Berg tereg staan, het weer in die landdroshof hier verskyn. Die saak is egter uitgestel tot ná die Nuwejaar.
Die vier verdagtes is Johannes Sekgoro, Leepile Daniel Sidasie, Daniel Tsekiso Seloane en Thami Terrence Kat. Hulle is op 17 Julie op Dealesville in hegtenis geneem.
Sakkie (67) en Ina (62) is op 12 Julie 2019 op die plaas Bloubos sowat 20 km buite Boshof, waar hulle gewoon het, oorrompel en vermoor. Hulle liggame is op 13 Julie 2019 deur ’n buurman gevind na onraad vermoed is.
’n Ingeligte bron het aan FiND iT bevestig die saak is uitgestel vir verdere ondersoek. “Die moontlikheid vir ’n borgtogaansoek word ook nie uitgesluit nie.”
Die saak is tot 13 Januarie 2020 uitgestel en die verdagtes bly in aanhouding tot hulle volgende hofverskyning.



