GAUTENG – ’n Bejaarde Britse toeris (69) is van ongeveer R100 000 se besittings beroof nadat gewapende verdagtes hom vanaf die OR Tambo-lughawe tot by sy hotel in Morningside gevolg het.
Volgens The South African het die voorval Sondagaand omstreeks 19:30 plaasgevind.
Die drie verdagtes het in minder as ’n minuut met die toeris se tasse van die toneel gevlug.
Probleem vir toeriste by die lughawe
Volgens The South African teiken bendes nou reisigers wat OR Tambo verlaat en volg hulle tot by hul bestemmings. Sodra die slagoffers hul eindpunt bereik, slaan die rowers toe.
In 2017 is ‘n groep toeriste gedwing om geld en besittings ter waarde van R27 000 aan ‘n groep diewe te oorhandig terwyl hulle van OR Tambo af na hul hotel in Johannesburg op pad was. Dit was net ses weke nadat ‘n groep van 35 Nederlandse besoekers deur ‘n ander gewapende bende met ’n vuurwapen gedreig was.
Geen arrestasies is na die jongste voorval gemaak nie.



