LIMPOPO. – Chrisna van der Merwe, wat aangekla word vir die moord op haar man in Desember verlede jaar, het gister haar eerste verskyning in die Modimolle-landdroshof gemaak.
Botes van der Merwe, Chrisna se man, is op 11 Desember 2018 tydens ’n skietery dood.
Maroela Media berig dat Van der Merwe ook op aanklag van diefstal teregstaan. “Die staat voer aan sy het kort na die moord op haar man R141 000 uit sy bankrekening na haar bankrekening oorbetaal.”
Waarskuwing
“Landdros Hannes Stofberg het die saak tot 17 Februarie 2020 uitgestel. Van der Merwe is op waarskuwing vrygelaat en indien sy versuim om in die hof te verskyn, ’n lasbrief vir haar inhegtenisneming uitgereik sal word. Sy mag oon nie kontak maak met die staat se 29 getuies nie,” berig Maroela Media.
Dood verklaar
Maroela Media het ook vroeër berig inwoners van die Koro Creek-gholflandgoed het die polisie op 11 Desember 2018 omstreeks 22:00 ontbied nadat skote by die oorledene se huis afgaan het. “Botes en Chrisna is in die hoofslaapkamer aangetref. Botes is op die toneel dood verklaar, terwyl Chrisna met ’n skietwond in haar maag na die St. Vincent-hospitaal gehaas is. Botes is drie keer in die bors en maag geskiet.”
Haarself geskiet
Hulle berig ook dat die staat aanvoer dat Christa vir Botes geskiet het en toe die vuurwapen na haarself gedraai het. “Twee vuurwapens is destyds op die toneel gevind,” skryf Maroela Media.



