HIERDIE VIDEO BEVAT KRU-TAAL EN IS BAIE GRAFIES EN IS NIE VIR SENSITIEWE KYKERS BEDOEL NIE.
JOHANNESBURG. – ’n Video waarin ’n hoërskoolmeisie ’n seun slaan, het skokgolwe deur Suid-Afrika gestuur.
Hierdie leerders is na bewering in Hoërskool Jan Viljoen.
In hierdie video vra die meisie die seun of hy bang is vir haar en hoekom hy bang is vir haar. Ewe skielik slaan sy hom met ’n toe vuis in die gesig. In die video kan gesien word hoe sy die seun drie keer slaan. Leerders wat rondom hulle sit en selfs die video neem, doen niks om die voorval te keer of te stop nie.
Prokureur
Veruschka Marx, van Marx Prokureurs, het op die video wat op Facebook rondgestuur word, gesê sy is moeg vir kinders wat dink hulle kan ander kinders boelie. “Indien enigiemand die seun, wat geboelie word, se ouers ken, vra hulle asseblief om my te kontak. Ons sal hulle gratis help met hierdie saak.”
Familie
Marx het ook aan FiND iT bevestig hulle is bereid om op te tree as die gesin se regsverteenwoordiger. “Ons is nog nie heeltemal seker nie, maar dit wil voorkom asof albei 16 jaar oud is. Ons het in kontak gekom met ’n familielid, asook ’n persoon wat in hierdie stadium namens die familie gaan optree.”
Die skool was nie beskikbaar vir enige kommentaar nie.



