Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het vandag ’n groot dwelmlaboratorium ter waarde van miljoene rande op die plaas Lefaso in Phuthaditjhaba in die Vrystaat ontbloot.
Brigadier Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, sê tydens ’n multidissiplinêre intelligensiegedrewe operasie het lede van die polisie se misdaadintelligensie en misdaadopsporing, saam met die Valke, op twee geboue op die Lefaso-plaas toegesak. Toe een van die verdagtes die polisie sien, het hy in ’n Toyota Fortuner en ’n ander een te voet, gevlug.
Vasgetrek
’n Hoëspoed-jaagtog tussen die polisie en die Fortuner het op die plaas ontstaan en die verdagte in die Fortuner is uiteindelik by Warden tot stilstand gedwing. Die verdagte, wat in sy 50’s is, is gearresteer. Terwyl dit gebeur het, is ’n 32-jarige verdagte te voet agtervolg en ook in hegtenis geneem.
Twee geboue vir dwelms gebruik
Die twee geboue wat vir boerdery gebruik moes word, was in plaas daarvan slegs vir die vervaardiging van Mandrax-tablette gebruik. Terwyl die een gebou gebruik was om die finale produk te vervaardig, is die ander gebruik vir die berging van chemikalieë en ander bestanddele, sowel as vir die voorbereiding van die mengsel vir die vervaardiging van tablette.
Dieselfde van
Na die ontdekking op die plaas het spanne gelyktydig twee huise in die Kiblerpark- en Forrest Hill-gebied suid van Johannesburg binnegeval. Albei huise is positief met die plaas verbind nadat dwelms, chemikalieë en aansienlike bedrae geld in albeigevind is. Bo en behalwe dit het al die mense wat aan die plaas en die huise gekoppel is, dieselfde van.
“Alhoewel dit moeilik is om ’n waarde vir ’n dwelmvervaardigingslaboratorium te bepaal, kan ’n mens met al die inhoud, chemikalieë en masjinerie dit nie op minder as R100 miljoen skat nie,” vertel Naidoo.
Die bedrywighede van vandag spruit uit arrestasies wat ’n paar weke gelede in Middelburg in die Mpumalanga-provinsie sowel as in Diepkloof in Soweto buite Johannesburg gedoen is.
Die arrestasie van die jongste twee verdagtes bring die getal verdagtes in verband met al hierdie dwelmoperasies op 11 te staan.












