KIMBERLEY. – Kokkedoor-wenner Wilhelmina Thirion Garcao (40) het gisteroggend ’n kookdemonstrasie hier by Malu Pork aangebied.

Met ’n borrelende persoonlikheid het sy sowat 80 vrouens gewys hoe om geroosterde varklies met heelkorrel-mosterd, varkfilet met songedroogde tamaties en meer voor te berei.
Kookdemonstrasies
Alwina van Zyl, direkteur by Malu, sê dit was ’n baie spesiale en besonderse dag omdat Daniel Williams, die oud-sjef van Occidental Bar en Butlers Hotel wat vroeër vanjaar in sy slaap oorlede is, ook vandag sou verjaar. “Toe ons begin met hierdie kookdemonstrasies het sjef Daniel my gehelp om my visie vlerke te gee.”
“Ons het verlede jaar met hierdie kookdemonstrasies begin en Wilhelmina is ons vierde sjef wat demonstrasies by Malu kom doen.”
Sjef Daniel

Wilhelmina het ook tydens die demonstrasie terugverwys na Daniel en hoe sy die nuus van sy afsterwe, terwyl sy op Kokkedoor was, ontvang het. “Ons gaan dit nie ’n hartseerdag maak nie, maar ons het die nuus gekry terwyl ons besig was met die biltonguitdaging, wat ons ook gewen het daardie dag. Ons het dit vir sjef Daniel gedoen.”
Gehoor help mee
Verder het sy ’n paar vroue in die gehoor gevra om haar te help met die voorbereiding van die appelslaai en die taboeli (tabbouleh, ’n koeskoesslaai). Sy het ook grappies vertel en gesê hoe lekker ’n hoenderschnitzel is wat in ’n broodrooster gemaak is.
Het julle al ’n kookdemonstrasie by Malu Pork in Kimberley bygewoon?






