Departement van onderwys vra hulp met openbare privaatinisiatief

Deel hierdie storie / Share this story

Die departement van onderwys, gepaard met Vermeulens Build It, het vanoggend ’n openbare privaatinisiatief bekend gestel. Die doel van hierdie inisiatief is om ’n bevorderlike en veilige omgewing vir leer en onderrig te skep.

Mnr. Mac Jack, die LUR vir onderwys, het die medialede toegespreek. “Onderwys is ’n maatskaplike aangeleentheid en ons benodig alle belanghebbendes aan boord om die gehalte van onderwys te verbeter. Vermeulens Build It in Kimberley het die onderwysdepartement genader en is toegewyd tot die toekoms van ons kinders.”

Die inisiatief is deur van die jong meisies in Elizabeth Conradie-skool begin.

Vermeulens sal saam met die twee geïdentifiseerde skole werk om geld in te samel om Elizabeth Conradie se meisie- en seunskoshuis op te knap, sowel as om Laerskool Mankurwane van ’n speelarea vir gr. R-leerders te voorsien en ander opknappings by die skool te doen.

Judy du Plessis van Vermeulens het tydens die vraag-en-antwoordsessie van die toespraak gesê sy het deur Elizabeth Conradie se koshuis gestap en die nood daar raakgesien.

’n Volledige assessering moet nog by Laerskool Mankurwane plaasvind om vas te stel watter opknappings alles by die skool nodig is.

Mnr. Jack het die lede van die media bedank, sowel as die skoolhoofde. Hy het Judy du Plessis en Thinus van Vuuren van Vermeulens ook hartlik bedank. Hy het ook gevra dat ander besighede en selfs lede van die gemeenskap hierdie projek sal ondersteun.