Mans en vrou vir minderjarige se verkragting gevonnis

Deel hierdie storie / Share this story

UPINGTON. – Drie mans en een vrou is skuldig bevind vir die verkragting van ’n minderjarige meisie.

Hierdie voorval het op 16 November 2016 plaasgevind.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê ’n uitstekende ondersoek deur sers. Lucky Malepe van gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) het gelei tot swaar vonnisse van drie mans en ‘n vrou vir verkragting.

Hy sê die slagoffer (15) en haar vriendin is genooi om saam met die oortreders ‘n nabygeleë dorpie te besoek. “Die twee vriendinne het in twee verskillende voertuie gery. Die oortreders het met die slagoffer by ’n oop veld gestop waar die drie mans beurte gemaak het om haar te verkrag. Dit was in die teenwoordigheid van die vrou wat by hulle was.”

Ramatseba sê toe die vriendin van die slagoffer daar aankom, het sy opgemerk daar is iets verkeerd en sy het haar vriendin probeer help, maar die vrou het haar weerhou.

Die vier oortreders, naamlik Ruwellyn Alwyn (24), Abel Jonkers (39), Geraldo Alwyn (20) en Carmon Alwyn (20) is Vrydag deur die Noord-Kaapse hooggeregshof onderskeidelik tot 20, 20, 18 en 16 jaar gevangenisstraf gevonnis.