SUID-AFRIKA. – Die boere regoor die land, maar veral in die Noord-Kaap, gaan steeds gebuk onder die voortslepende droogte.
Johan van der Merwe van Braaivleis Vereniging het hulle nuwe projek vir November, genaamd Braaibroodjie vir ’n boer, op hulle Facebook-blad bekendgemaak. Braaivleis Vereniging en Boere Droogtehulp SA vat hande vir hierdie projek.
In ’n video op hulle Facebook-blad sê hy dit neem omtrent 10 tot 15 verskillende boere om ’n braaibroodjie te maak. Daar is die koring-, canola-, melk- en vrugteboere en soveel meer wat ’n heerlike braaibroodjie moontlik maak.
“Meeste van ons het ’n sagte plekkie vir ’n braaibroodjie. Met ons nuwe projek vra ons mense om net die waarde van een braaibroodjie vir ons boere te skenk, sodat ons Boere Droogtehulp SA kan ondersteun om voer vir die boere te neem,” skryf Van der Merwe op die blad. Hulle ‘verkoop’ een broodjie teen R15.
Chris van Beljon, stigter van Boere Droogtehulp SA, sê ’n paar mense het reeds skenkings gemaak en hulle is so ongelooflik dankbaar daarvoor. Hy sê hierdie projek gaan net in November plaasvind.
Vir meer inligting of indien jy ’n skenking wil maak, kontak asseblief vir Chris by 082 961 6620 of vir Johan by 065 913 7655.



