KIMBERLEY. – ’n Gr. 8-leerder van Hoërskool Diamantveld het aan die Biathle-wêreldkampioenskappe in Florida deelgeneem en het uitstekend gevaar.
Die Biathle-wêreldkampioenskappe het in St Petersburg, Florida, in die VSA, plaasgevind.
Biathle
Biathle is ‘n internasionale sport wat onder die Olimpiese sport, pentathlon of vyfkamp, val. Dit kombineer hardloop en swem. Dogters en seuns moet apart in verskillende ouderdomsgroepe deelneem. Die atlete hardloop op gemengde terrein, swem onmiddellik ‘n afstand in ope water, soos ‘n meer, en hardloop dan weer dieselfde afstand.
Hardus van der Merwe
Hardus van der Merwe (14), wat al sedert hy nege jaar oud is, hardloop en swem, het aan die o/15-kategorie deelgeneem en het 800 m gehardloop, 100 m geswem en weer 800 m gehardloop. Hy het ook saam met ’n dogter aan die gemengde aflos deelgeneem.
Riana van der Merwe, Hardus se ma, sê die sport word nie in die Noord-Kaap aangebied nie, dus moes hy in die Vrystaat deelneem. “Hardus was die Vrystaat-kampioen,” sê sy trots.
“Hy moes daarna by die SA Biathle-kampioenskappe kwalifiseer om vir die SA-span gekies te word. Hy het die silwermedalje in Suid-Afrika verwerf.”
Oefenmaat
Frances van der Merwe, Hardus se sussie, is sy oefenmaat en was agste in Suid-Afrika. Hulle oefen ten minste 12 keer per week, wat hardloop, swem en biokinetikus-sessies insluit.
Riana vertel hoe haar seun vir die laaste ses weke voor die kampioenskappe tot 14 keer per week geoefen het.
Verskillende lande
“Hardus het op 24 Oktober aan die gemengde aflos deelgeneem en negende in die wêreld geëindig. Hy het gister aan die individuele kompetisie deelgeneem en het 15de geëindig. Daar was altesaam 420 atlete uit 33 lande. In sy aflos was daar 14 spanne en 28 atlete in sy individuele kompetisie. Lande soos Brittanje, Japan en Egipte het uitstekend presteer.”
Sy sê die kondisies was rof met hitte en humiditeit wat talle atlete, weens hitte-uitputting, ineen laat stort het.
Onwerklike droom
“Soms voel dit soos ‘n onwerklike droom, maar die stres is erg, en jy moet kalm bly voor hom. Ons is baie trots op hom. Alhoewel hy geseën is met talente, werk hy geweldig hard om sy drome waar te maak. Hy het ook al teleurstellings gehad. Ons hoef byvoorbeeld nooit te vra wanneer hy gaan oefen nie. Hy is selfgemotiveerd en gedissiplineerd.”

Marco Prins, van Gauteng, was die enigste ander Suid-Afrikaanse atleet in die o/15-kategorie en het 16de by die Wêreld-kampioenskappe geëindig.





