Stephaan Matthee (36), ’n vennoot by Malu se vleisafdeling, Malu Abattoir en Malu Pork, gaan vir die derde jaar die Global Leadership Summit bywoon.
Hy is gebore en het grootgeword in PE. Daar het hy vir vier jaar as afleweringsman vleis afgelaai vir ’n vleisgroothandelaar. Hy het toe Kaap toe verhuis, waar hy sy pragtige vrou, Annelet Matthee, ontmoet het. Die paartjie het twee kindertjies, Wian (6) en Juane (4). Hulle bly op Plaas Pax naby Riverton, waar Malu se hoofkantoor is.
Watter tipe mense moet GLS bywoon?
“Ek dink meeste mense kan dit bywoon – ouers, jongmense, leiers. Volgens my neem verskillende mense elkeen iets anders huis, werk of besigheid toe. Maar ’n mens moet met ’n positiewe houding en met verwagting gaan.”
Wat het GLS vir jou beteken en wat het jy geleer?
“GLS het regtig baie vir my as leier beteken, dit het my toegerus om ernstige situasies kalm en volwasse te hanteer. Die resultaat spreek vanself: ek het nie meer mense wat “onder” my werk nie, maar eerder ’n toegewyde span mense wat almal saam met my werk om dieselfde doel te bereik. Ons kan verskille tussen bestuur en werkers vinnig en sonder ’n stryery uitsorteer.”
Wat beteken leierskap vir jou?
“Leierskap is die voorreg om mense op ’n positiewe manier te beïnvloed. Dit is lekker om te sien wanneer mense hul werk doen en dit terselfdertyd geniet ook.”
Boodskap aan ander?
“As jy graag wil groei en enige invloed wil uitoefen, woon die GLS by. Dit rus mense toe om beter ouers, kollegas, leiers, eggenote en besigheidsmense te wees. Ons almal werk met mense en volgens my is mense jou belangrikste bate. GLS gaan jou nie leer om meer geld te maak nie, maar dit gaan jou toerus om ’n beter invloed te hê op alle mense met wie jy te doen gaan kry in jou lewe.”



