UPINGTON – Pule Labase en Lesego Dawid Lentswe is lewenslank tronkstraf opgelê en Lefa Petrus Makhotsa is tot 20 jaar tronkstraf in die Upington-streekhof vir verkragting gevonnis.
Lt.-kol. Dimakato Mooi sê die slagoffer is op 6 April 2014 omstreeks 20:15 deur die drie verdagtes voor haar huis aangeval.
Hulle het haar arm gebreek en na ’n veld gesleep. Daar het hulle beurte gemaak om haar te verkrag.
Die slagoffer is deur haar kêrel gered, nadat hy haar hoor gil het.
Sorgvuldige ondersoekwerk deur sers. Rhyno Visagie van Kakamas se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) het tot die suksesvolle vervolging gelei.



