NASIONAAL. – Baie mense glo in boererate, maar soms is daar raad wat jy eenvoudig nie kan volg nie.
Ná ’n onlangse video wat gedeel is van ’n man wat ’n aangesteekte vuurhoutjie in ’n gat in sy erf gooi en die grootste deel van sy erf laat ontplof, het FiND iT met die brandweer in Kimberley gesels.
Die boereraat lees: “Vir molle in jou tuin en grasperk, druk ’n gasbottel se pyp in die gat en maak die bottel oop sodat genoegsame gas in die gat ingaan. Verwyder die bottel en gooi ’n brandende vuurhoutjie in die gat om die molle uit te brand.”
Thinus Pretorius, die senior bestuurder van die nooddienste in die Sol Plaatje-gebied, sê dit is uiters gevaarlik om hierdie boereraat te volg. “Dit is nie net molle wat ondergronds woon nie, so mense sal dit sekerlik wil doen met ander diersoorte ook, maar ons sal hierdie raad nóóit aanbeveel nie.”
Hy sê hierdie persoon stel sy eie lewe in gevaar, asook die mense rondom hom. “Dit kan ook skade aan jou huis doen en kan slegte nagevolge inhou.”



