KIMBERLEY. – ’n Oud Hoërskool Noord-Kaap leerder is gekies vir die Blitzbokke en sal in ’n nommer ses trui vir hulle uitdraf.
Cameron Hufke (21) speel al van sy kinderdae rugby en het sy ma in totale ekstase met sy nuutste prestasie. Hy het ook deel gevorm van die 2018 Vodacom Blue Bulls o/21-span.

Kathy Hufke, Cameron se ma, sê alhoewel hy tans in Johannesburg woon en sy nie altyd self daar kan wees nie, is sy steeds sy grootste ondersteuner. “Om te sê ek is trots op hom is ’n understatement! Hy werk baie hard en verdien hierdie prestasie uit-en-uit.”
Sy sê sy weet hierdie is net die begin vir sy rugby-loopbaan en dat groot dinge nog op hom wag. “Hy moet sy nederigheid behou, want hy is ’n rolmodel vir baie.
Hoërskool Noord-Kaap het op hulle Facebook-blad gesê hoe trots hulle as skool op Cameron is. “Cameron Hufke is gekies vir die SA Sewes Rugbyspan. Baie geluk Cameron!”




