Nuwe hulpafrigter vir Tafel Lager Griekwas aangekondig

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die nuwe hulpafrigter vir die Tafel Lager Griekwas, wat ’n lang en suksesvolle loopbaan in rugby het, is sopas aangekondig.

Albert van den Berg sal die verdedigingstaktiek van die span en voorspelers afrig.

Wie is Albert van den Berg?

Hy is ’n voormalige rugbyspeler van die Suid-Afrikaanse rugbyunie, is getroud en ’n pa van twee. Hy het in 1992 aan die Hoërskool Vryburg gematrikuleer, maar het na skool na Vanderbijlpark verhuis, waar hy vir Iscor begin werk het.

Hy het van 1993 tot 1995 vir die Vaaldriehoek rugby gespeel en is gedurende hierdie tyd gekies om vanaf 1996 tot 1999 in Kimberley vir die Griekwas te kom speel. Van den Berg het die Griekwas gedurende hierdie tyd 55 keer verteenwoordig.

Op 12 Junie 1999 het hy sy internasionale debuut vir Suid-Afrika gemaak in ’n toetswedstryd teen Italië in Port Elizabeth. Hy is daarna deur Nick Mallet gekies vir Suid-Afrika se 1999 Rugby Wêreldbeker-span in Engeland en Wallis.

Na sy seisoen by die Griekwas het hy by die Sharks aangesluit en het vanaf 2000 tot 20009 vir hulle gespeel. Hy het altesaam 172 wedstryde vir die Sharks gespeel. In hierdie tyd is hy deur Rudolph Straeuli, John Plumtree en Dick Muir afgerig.

Hy is ook deur Jake White gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig tydens die 2007 Rugby Wêreldbeker in Frankryk, waarna hulle die toernooi as wenners voltooi het.

Hy het einde 2007 uit internasionale rugby getree en in totaal 51 toetse vir die Bokke gespeel. In 2010 het hy na Japan verhuis en het sedert 2010 tot 2013 vir Canon Eagles in die Topliga gespeel.

Op 39-jarige ouderdom het hy uit professionele rugby getree en terug na Suid-Afrika verhuis. Hy het sy afrigtingsloopbaan in 2014 by The Sharks Academy begin. Na twee jaar by die Sharks het hy van 2015 tot 2018 terug na Japan verhuis om die Canon Eagles af te rig.

Tafel Lager Griekwas

Scott Mathie, hoofafrigter van die Tafel Lager Griekwas, sê hulle is baie bly dat Albert deel van die span word. “Hy is ‘n bekwame afrigter wat groot waarde tot die Griekwas-program sal toevoeg.

“Hy het baie kennis van die spel en sal ‘n rykdom van ervaring, uit ‘n roemryke loopbaan in die spel, saambring. Hy ken die stad Kimberley en sy mense en ek glo dat dit ‘n positiewe impak sal maak in sy tyd hier.”