KIMBERLEY – Pakisho Tsotetsi (43), ’n man van Kagisho, is tot 22 jaar vir die verkragting van ’n 12-jarige dogter in die Galeshewe-streekhof gevonnis.
Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die polisie verwelkom die suksesvolle vervolging.
Die slagoffer het op 14 November 2018 in die straat naby haar huis gespeel toe Tsotetsi haar voorgekeer het. Hy het haar na sy huis gelok om water te drink en haar by sy huis verkrag, sê Kock.
Die beskuldigde is op dieselfde aand deur die polisie in hegtenis geneem en het tot met sy vonnisoplegging in aanhouding gebly.
Brig. Nicky Mills, die provinsiale hoof vir die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS), het adjunk-a.o. Reginald Zephe van die Galeshewe-GKS vir sy noukeurige en uitmuntende ondersoekwerk bedank.




