Universiteitstudente begin biblioteek in middedorp

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Twee universiteitstudente het ’n pop-up biblioteek gestig bloot uit die liefde van lees en om kennis te deel.

Thabo Batshe en Ntesang Nakutu is die medestigters van hierdie inisiatief. Hulle biblioteek, genaamd Eyethu Pop-up Library, beteken “it is ours”.

Thabo voltooi tans sy finale jaar in BA Kommunikasie aan die Universiteit van die Vrystaat en Ntesang is nou in haar derde jaar aan die Sol Plaatje-universiteit. Sy wil haar BA in Opvoedkunde (intermediêre fase-onderrig) verwerf.

“Die International Reading Literacy Study (PIRLS) van 2017 het ons oortuig om aan die inisiatief te begin werk, na dit aan die lig gekom het dat slegs 22% van die Suid-Afrikaanse gr. 4-leerders kan lees. Dit beteken 78% kan nie lees nie.”

Sy sê die doel is om ’n progressiewe leeskultuur in Kimberley te vestig en in stand te hou deur maandelikse pop-ups in die dorp, soos by die taxi-staanplek te hou.

“Toe ons die inisiatief begin, het ons net 34 boeke gehad, maar na ons eerste pop-up het ons nog 30 boeke ontvang. Die inisiatief is ook geseën deur die plaaslike skrywer, Sabata-Mpho Mokae, wat drie van sy gepubliseerde boeke geskenk het.

“In die toekoms wil ons ’n boekklub skep wat bestaan uit toegewyde lesers wat na elke pop-up sal ontmoet om hulle idees te deel oor die vorige boeke wat hulle by die pop-up-biblioteek geleen het.”