Leierskapkamp vir die jeug van die Noord-Kaap

Deel hierdie storie / Share this story

Die Nasionale weermag, in samewerking met die Departement van Sosiale Ontwikkeling, hou hierdie week ’n sewe dae leierskapkamp vir die jeug van die Noord-Kaap.

Die doel van hierdie leierskapkamp is om jongmense te bemagtig met leierskapsvaardighede wat hulle in die gemeenskap kan gebruik. Die kamp het gister volstoom by die Diskobolos-weermagbasis begin en Saterdag sal die groot afsluiting plaasvind wat ook sal dien as die openingsseremonie vir 2019-kampe regoor al nege provinsies.

Lizile Khumalo-Nyembe, van die Departement van Sosiale Ontwikkeling en die kamp se bevelvoerder, sê die kamp, wat jeug wil bemagtig, fokus op drie dinge: selfontwikkeling, toestand van jeug in gemeenskappe en volhoubare ​​optrede.

“Ons mikpunt is om die jeug te lei om hulself te leer ken en te bemagtig. Daar word ook inligting oor narkotiese middels en verslawing, seksuele gesondheid, berading, werkloosheid, besigheidstudies en befondsingskemas gegee en gekyk of jy werklik gereed is om in diens geneem te word.”

“ Daar sal ook debatsaande, selfontdekking en suksesstories van ander jongmense wees. Ons mikpunt is om ’n groot verskil in die jeug se lewens te maak.”

ER24 ondersteun hierdie program en bied mediese hulp gedurende hierdie tyd aan.