PORT ELIZABETH. – ’n Matrikulant van hier, wat weens ’n longsiekte nie haar matriekafskeid kon bywoon nie, is verras met haar eie matriekafskeid by die Livingstone-hospitaal.
Larisca Radie (18) se matriekafskeid is op 4 Oktober gehou, maar omdat sy in die hospitaal opgeneem was, kon sy nie hierdie spesiale dag bywoon nie.
Sharni Diedericks, die vrou wat haar rok gemaak het, sê Larisca het sistifibrose.“Ek het egter nie geweet sy is in die hospitaal opgeneem nie. Ek het Saterdag foto’s van Larisca ontvang, waar sy in die hospitaal is en haar eie matriekafskeid gekry het. Dit het my in trane gehad!
Op Diedericks se Facebook-blad, So Fine, het sy ’n boodskap, wat sy van Larisca ontvang het, geplaas. “My eie matriekafskeid was so ’n ongelooflike dag. Ek kan nie begin sê hoe ek dit waardeer nie. Dit was ’n baie onverwagse, opwindende en goed beplande geleentheid. Dit was wonderlik! Om die kyk op my pa se gesig, of my grootste aanhanger soos hy homself noem, te sien toe ek by die gang afstap terwyl dokters en verpleegsters aan die kante staan en hande klap, was net te groot. Daar is geen woorde om my waardering vir hierdie dag te beskryf nie.”







