Boer sterf in fratsongeluk

Deel hierdie storie / Share this story

JACOBSDAL – Herman Johannes Galama het Sondagmiddag in ’n fratsongeluk op sy plaas, Rostrevor, gesterf toe ’n twee ton-vervoerder (conveyer) op hom geval het. Galama het na bewering sy nek gebreek en is op toneel dood verklaar. Rozelle Galama, skoondogter van Galama en boekhouer by Vets4All, het aan FiND iT bevestig dat sy seun, Herman, op hom afgekom het.

Vervoerband loop

Rozelle en Herman is ongeveer 14:00 na die stoor om gereedskap te kry om portrette in hulle huis op te hang. Die paartjie bly in ’n huis op die plaas. Hulle het gehoor die vervoerband loop, maar het gedink Galama is besig om te werk. “Hy kon nooit stilsit nie. Hy was altyd besig om te werk,” vertel Rozelle. Nadat hulle die portrette opgehang het, is hulle ongeveer 18:00 terug stoor toe om die gereedskap te bêre. Hulle het gehoor die vervoerband loop steeds.

Skok groot

Herman het gaan ondersoek instel terwyl Rozelle in die bakkie gewag het.
Dit is toe dat hy sy pa onder die conveyer sien. “Die skok is nog baie groot. Dit voel onwerklik,” sê Rozelle.

Albert Hensberg, bestuurder van ER24, het bevestig Galama is op die toneel dood verklaar.

Niemand is nog seker hoe die ongeluk gebeur het nie.

Galama laat sy vrou, Louwdia, sy dogters Maryke en Monique en sy seun, Herman Jnr. agter.

Herman Johannes Galama
Galama se twee dogters, Maryke en Monique en hulle broer, Herman (Jnr)
Herman, Louwdia, Maryke, Monique, Rozelle, Herman (Jnr)

Foto’s: Facebook