Juan van Rensburg (Dusty, 36) is baie opgewonde oor die 10 dae wat hy binnekort huis toe kan kom.
Hy is nou 34-weke by die rehabilitasiesentrum en het nog 18 weke oor. Hy is môre al agt maande by die sentrum.
Dusty het vanoggend, terwyl hy by die tandarts gewag het, vir ’n paar minute met FiND iT gesels.
Tandarts
“Ek het twee dae gelede ’n gedeelte van my tand gebreek en moes vandag ’n stopsel laat insit. Gelukkig kry ons die geleentheid om elke Donderdag na die tandarts op Somerset-Oos te kom, indien dit nodig is. Drie van ons by die sentrum moes vandag die tandarts besoek.”
Hy sê sy gemoed is nie altyd so positief soos dit moet wees nie, maar hy vat steeds elke dag soos dit kom.
Verantwoordelikheid
“Ons het verlede naweek weer ’n scout weekend gehad, waar ons weer gaan kamp het met ’n paar leerders. Ek geniet dit baie, alhoewel dit baie uitputtend is.”
Hy sê hulle moet heeltyd ’n ogie hou oor die kinders en seker maak hulle is veilig. “Dit leer my definitief om weer verantwoordelikheid te aanvaar vir ander mense. My aksies affekteer ook dié rondom my. Buite die sentrum dink mens altyd net aan jouself en aanvaar ook net verantwoordelikheid vir jouself, maar hier leer dit jou hoe om vir ander verantwoordelik te wees.
Ten days
“Ek word op 23 November teruggeskuif na die Noupoort-sentrum waar ek dan met Fase 3 sal begin. Ek is baie opgewonde daarvoor, want dan kan ek my ‘ten days’ reël.”
Tydens hierdie 10 dae mag hy teruggaan na sy familie en by hulle kuier, voor hy moet teruggaan na die sentrum toe.
“Ek sien baie uit om weer tyd saam met my gesin te spandeer en ek weet hulle is net so opgewonde,” vertel Dusty.



