KIMBERLEY. – ’n Inwoner hier is ontsteld ná sy vanmiddag, ná 14:00, na die kantoor van Binnelandse Sake in Galeshewe gegaan het, net om voor dooiemansdeur te staan.
Ramona Emslie sê sy het vanmiddag na hierdie kantoor van Binnelandse Sake gegaan om aansoek te doen vir ’n nuwe ID. “Daar was baie mense wat buite gestaan en wag het vir die kantoor om weer oop te maak. ’n Dame het die deur oopgemaak en gesê sy is alleen by die kantoor en dat haar kollegas reeds huis toe is weens ’n waterprobleem.”
Ricardo Abrahams, die provinsiale hoof van die departement, het bevestig die kantoor het om 14:30 vandag toegemaak weens die watertekort. “Daar was ’n waterprobleem by die kantoor wat ons reeds rapporteer het. Ons het ook sekere prosedures in plek vir wanneer daar sulke voorvalle is.”



