September 16, 2021

Wagte toegesluit terwyl aan diens

KIMBERLEY. – Twee sekuriteitswagte is gistermiddag aan diens in hegtenis geneem omdat hulle glo nie by PSIRA geregistreer is nie. Die persele waar hulle diens gedoen het, is glo net so gelos.

Toegesluit aan diens

Vier polisiebeamptes en ‘n PSIRA-personeellid het hulle na 15:00 by die onderskeie persele verwyder. Hulle is in die aanhoudingselle by die polisiekantoor toegesluit.

Geen lasbriewe

Wickus Coetzee, eienaar van Scorp Security, vir wie die wagte werk, sê aan FiND iT hy het ‘n oproep van ‘n persoon by PSIRA ontvang wat hom gesê het hy moet hom by die polisiekantoor ontmoet. “Hy wou homself nie identifiseer nie. Hy wou my ook nie sê hoekom die wagte toegesluit word nie, net dat hulle in ‘contravention’ is van ‘n ‘act’. Die wagte is toegesluit en ons het die hele aand gesukkel om antwoorde te kry. Om 23:30 is ek meegedeel hulle kan op borg vrygelaat word. Hulle kon geen lasbrief toon om die inhegtenisname te staaf nie. Die omstandighede rondom die arrestasies is vreemd.”

Weet nie straf vir oortreding

Hy sê nie die polisie, óf die PRISA-werknemer kon verduidelik hoekom die wagte toegesluit mos word nie. “Hulle kon nie sê of die oortreding se gevolge tronkstraf, ‘n boete of ‘n waarskuwing sou wees nie. Al ons dokumentasie is reeds aan PSIRA gestuur. Die maatskappy het aan my pa behoort, maar hy is oorlede. Die registrasie moet oorgedra word op my naam.”

Nog klagtes ontvang

Nyikiwa Jan Sambo, bestuurder by PSIRA, sê klagtes van ander Kimberley-sekuriteitsmaatskappye is ook ontvang en hulle wagte sal ook deur hierdie proses moet gaan. Die klagtes is vermoedelik deur ‘n opposisie-sekuriteitsmaatskappy ingedien.

Moet hulle in hegtenis neem

Sambo sê hulle moet klagtes ondersoek en daar is “geen ander manier” om die mense op te spoor nie. “Nie almal is op ons sisteem nie, so as ons hulle vind, moet ons hulle in hegtenis neem. Die beste manier om hulle voor die hof te kry, is om hulle in hegtenis te neem.”

Karwagte ook

‘n Karwag is vir dieselfde rede in hegtenis geneem. Karwagte moet ook glo geregistreer wees.

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, het bevestig dié wagte is in hegtenis geneem vir die oortreding van artikel 20(1)(9) van die PSIRA-wet 56/2001.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *