Hondegevegte op Ritchie

Deel hierdie storie / Share this story

RITCHIE. – Gerugte van hondegevegte in hierdie omgewing doen die rondte.

Hierdie gerugte kom ná Rex, ’n Jack Russel-reun, Dinsdagaand in Modderrivier gesteel is.

Santa Fourie* sê sy het hierdie gerugte by ’n bron van Rietvale gehoor. Rex is ook die week by ’n huis in Rietvale gevind.

Vegte

“Die kleiner honde word gesteel om as aas gebruik te word. Hulle verkies wit honde, omdat bloed makliker op hulle vel sigbaar is. Die afgryslikste is dat mans uit ‘gerespekteerde’ gebiede en met professionele beroepe, hierdie vegte aanskou en groot geld daarop dobbel.”

Deelname

Sy sê hulle het in Kaapstad gevind dat dit pastore, polisiemanne, onderwysers, uitvoerende hoofde, bankbestuurders en meer is wat aan hierdie gevegte deel het.

Ritchie

“Ek weet van twee honde wat hier binne dae van mekaar verdwyn het en as ek die beskrywings lees, weet ek hulle is ideaal vir teel.

“Ek dink eerlikwaar dit moet nie toegelaat word nie en strenger wette moet geïmplementeer word om alle diere te beskerm. Die een wat die ‘diens’ aanbied, moet gestraf word, sowel as die koper van die ‘diens’.”

Rex

Rex se eienaar, sê sy is onseker of hulle hom vir veg wou gebruik. “Hy het ’n wond op sy blad wat ek behandel en dit is moontlik dat dit die rede is dat hulle hom gesteel het. Ek het al heelwat gerugte gehoor van hondegevegte in die Richie-omgewing.”

Dierebeskermingsvereniging

Mario van der Westhuizen van die dierebeskermingsvereniging (DBV) in Kimberley sê hy is onbewus van die gerugte. “Indien ons sulke klagtes ontvang, moet ons dit ondersoek. Indien die klagtes korrek is, maak ons ’n saak by die polisie oop.”

*Let asseblief dat ’n skuilnaam vir hierdie berig gebruik is.