Emosionele roudiens vir oorlede leerder

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Amazing Grace, how sweet the sound
That saved a wretch like me
I once was lost, but now am found
Was blind but now I see.”

Hierdie lied is vanoggend gespeel terwyl leerders van die Hoërskool Adamantia die skoolsaal ingeloop het vir die emosionele roudiens van Ram Angelo Erntzen.

Erntzen (19), ’n leerder aan die Hoërskool Adamantia, is op Saterdag 28 September 2019 tragies oorlede.

Golermo Japhta, ’n leerder by die skool en Ram se beste vriend, het die Kers van die Lewe emosioneel aangesteek. Hierdie kers het Ram se lewe verteenwoordig.

Ps. Botma, wat die diens gelei het, sê hy wens hy het die voorreg gehad om vir Ram self te ontmoet. “’n Jong leerder is uit hierdie skool geruk.”

Hy het die leerders in die skoolsaal gegroet met ’n vraag: “Waar sal jy wees as jou lewensdraad vandag geknip word?”

Twee leerders van die skool se eerste rugbyspan het sy getekende toks aan sy ma oorhandig. Die Huishoudkunde-uniform, met Ram se naam op gedruk, is ook aan sy ma oorhandig. Die skool het nie kans gehad om sy uniform aan die begin van hierdie kwartaal, vir hom te gee nie.

Leerders van die skool was baie emosioneel tydens die diens en kon nie help om te huil nie. Erntzen se ma was uiters emosioneel en het op die vloer inmekaargesak.

André de Kock, dié skool se hoof, sê hierdie roudiens was verreweg vir hom die ergste. “Mens vergeet nooit ’n kind wat afgesterf het nie. Die pyn daarvan is baie seer.”

Hy het vir Japhta gehelp om die kers aan die einde van die diens weer dood te blaas.

Ram sal volgende Saterdag, 12 Oktober 2019 finaal ter ruste gelê word.