KIMBERLEY. – Die SAPD in Kimberley doen ’n beroep op die gemeenskap om hulle te help met die identifikasie van die liggaam van ’n oorlede man.
Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, sê hulle het op 21 September 2019, omstreeks 09:00, inligting ontvang dat ’n bejaarde man in Barklyweg naby die T-kruising by Homevale, dood lê. By hulle aankoms het hulle ’n bejaarde, skraal, donker man met ‘n ligter gelaatskleur gevind.
Kapt. Jansen sê hy het ’n vol grys-en-swart baard gehad. “Sy hare was ook grys-en-swart en hy het nie voortande gehad nie. Hy is halfnaak, met sy rooi kortbroek langs hom, gevind. Hy het ’n gholfhemp met blou-en-wit strepe aangehad.”
Hy het geen oop wonde en geen identifikasie aan hom gehad nie.
“Die nadoodse ondersoek het bewys hy het aan natuurlike oorsake gesterf. Ons is op soek na sy naasbestaandes of na iemand wat hom kan identifiseer sodat sy gesin sy liggaam kan neem,” sê Jansen.
Enigiemand met inligting kan kol. Markgraaf, die ondersoekbeampte, by 082 302 0407 kontak.



