KIMBERLEY. – Die Noord-Kaapse onderwysdepartement het alle skole in die Sol Plaatje-munisipale gebied gevra om diskresie toe te pas met die wateronderbreking wat vir vandag en môre geskeduleer is.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die onderwysdepartement, sê die situasie is uniek by elke skool. “Ons is dus afhanklik van die diskresie van die skoolhoof in hierdie geval. Ons is bewus daarvan dat sommige skole ‘n noodvoorraad water het en ander skole koshuise, daarom kan ons nie ’n ‘one-size-fits-all’ benadering gebruik nie.”
Hy sê afhangend van die aantal skooldae wat verlore gaan, gaan ’n herstelplan vanaf volgende week geïmplementeer moet word, aangesien dit ’n belangrike term in die skoolkalender is. “Leerders berei hulself voor vir die eindeksamen en waardevolle leer- en onderrigtyd is van kardinale belang.”
’n Boodskap, dat Elizabeth Conradie-skool môre toe sal wees, is vanmiddag aan alle ouers, met kinders in hierdie skool, gestuur. ’n Brief is ook aan die ouers van Jannie Brink gestuur om hulle in kennis te stel dat die skool môre toe sal wees.



