KIMBERLEY. – Die president van die SAPD se nasionale krieketspan het vanoggend ’n tjek van R5 000 aan Elizabeth Conradie-skool se skoolhoof oorhandig.
Lt. Kol. Peet du Plessis, vergesel van mede uitvoerende lede, sowel as die brig. Bossie Jacobs van die Noord-Kaap Krieket, het die tjek aan mnr. Edward Malouly oorhandig.
Kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, sê hierdie skenking is namens die nege provinsiale en hoofkantoor krieketspanne, wat tans aan die SAPD Nasionale Krieketkampioenskappe in Kimberley deelneem, gemaak.

Geleentheid
“Dié geleentheid is deur die provinsiale VISPOL, provinsiale korporatiewe kommunikasie, die bestuurders van die sektor in Kimberley wat aangestel is as die skool se Adopt-a-Cop by Elcon, die Valke, korrektiewe dienste, sowel as lede van die departement van onderwys se sport-eenheid, bygewoon.”
Leerders is toegespreek
Die leerders is toegespreek oor afknouery, seksuele teistering en dwelmmisbruik.
“Die departement van korrektiewe dienste het met die leerders gesels oor die lewe agter tralies en die keuses wat die jeug gemaak het toe hulle by misdaad betrokke raak,” sê Gamieldien.
Sporttoerusting
Malouly het aangedui dat dié skenking aangewend sal word om die nodige sporttoerusting aan te skaf.
As ‘n bewys van hulle waardering het ‘n groep dansers van die skool die Ipitombi-dans uitgevoer.






