Kimberliet ’n finalis vir Miss Bachelorette SA

Het jy al gehoor van Miss Bachelorette SA? Miss Bachelorette Suid-Afrika is gemik op die erkenning en bemagtiging van volwasse, ongetroude vroue deur filantropie, mode en skoonheid. Dié is nie die program op TV waar vrouens deelneem om ’n man se aandag te trek nie, maar ’n kompetisie vir onafhanklike, ongetroude vroue.

Janine Nieklaasen (32), ’n enkelmamma van drie, oorspronklik van Kimberley, is as een van die 16 top finalsite vir 2020 gekies.
Nieklaasen werk al vir die afgelope vyf jaar vir ’n skoonheidsmaatskappy, KAO Pty Ltd, wat haarprodukte soos haarkleurmiddels aan salonne in Suid-Afrika verskaf.

Hoekom hierdie kompetisie?

“Ek neem deel aan hierdie kompetisie om my stem  as ’n vrou, ma en rolmodel te laat hoor. Toe ek die terme en voorwaardes sien, het dit gevoel my gebede word beantwoord. Die belangrikste is om myself te vind. Ek was ’n slagoffer van depressie en was ’n paar maande gelede op ’n baie slegte plek. Ek is op ’n reis om dinge te doen wat my gelukkig maak en as dit is om soos ’n slim pop te lyk, is dit wat ek is.”

Doelwit

“My doelwit met hierdie kompetisie is om die jong vroue in my familie te inspireer om te doen wat jou hart begeer. My persoonlike doelwit is om Kimberley op die kaart te sit, met die asemrowende talent wat ons dorp het.”

Paula Prit

“Ek het ’n groot passie vir respek, mooi lyk en mooi maak. Al my vriendinne en familie weet dit. My bynaam by baie mense is Paula Prit.”

“Ek hou daarvan om Afrikaans lees.  Ek oefen so vier of vyf keer per week en kook graag vir my babas. Ons het drie honde – Blackie, Poena en Spotty. Mense weet nie dat ek  daaraan verslaaf is om  lipstiffie te versamel  nie, my versameling sal baie monde laat oophang. Nou dat ek ’n kleuterdogtertjie het, sluit ek alles toe.”

Hoe voel dit om ’n finalis te wees?

“Toe dit eers by my insink, was dit ’n besonderse gevoel. Ek het almal laat weet ek het dit gemaak en kon nie wag om te hoor wat my voordele vir die reis sal wees nie.”

 Nieklaasen is uit 27 deelnemers vir die top 16 gekies.



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *