Vierde verdagte in die ontvoering van Amy’Leigh De Jager in hegtenis geneem

Deel hierdie storie / Share this story

VANDERBIJLPARK – Na ’n lang soektog is ‘n vierde en moontlik laaste verdagte wat in verband met die Amy’Leigh De Jager-ontvoering gesoek is, gister gearresteer.

Die inhegtenisneming kom na die inhegtenisneming van drie verdagtes enkele dae nadat Amy’Leigh ontvoer en gevind is. Laetitia Nel, Pieter van Zyl en Tharina Human is sedert 3 September in aanhouding.

Buite skool ontvoer

Amy’Leigh is begin vandeesmaand buite die Laerskool Kollegepark ontvoer toe sy deur haar ma afgelaai is. Net minder as twee dae later is sy ongedeerd deur haar ontvoerders vrygelaat. Amy’Leigh is omstreeks 02:30 in Shakespearestraat, Vanderbijlpark, afgelaai. Haar ontvoerders  het vir haar ‘n geldjie gegee en gesê sy moet vir haar ‘n watertjie gaan koop. Sy wou nie hulle kos eet of water drink nie. ‘n Paartjie het haar in die straat gehoor huil en met haar na die polisiestasie toe geloop. Wynand (die pappa) was buite en het hulle sien aangeloop kom. Amy’Leigh is daarna hospitaal toe geneem.

24-jarige man gearresteer

Lede van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) wat verantwoordelik is vir die ondersoek, het ‘n 24-jarige man gister in Muvhango, ‘n gebied net buite Vanderbijlpark, gearresteer.

Hy sal Woensdag 25 September 2019 voor ‘n landdros verskyn. Die vervolging sal versoek dat hy in aanhouding gehou word tot 1 Oktober 2019, wanneer hy weer saam met die ander drie verdagtes sal verskyn vir ‘n formele borgtogaansoek.

Alle verdagtes nou in hegtenis

Brigadier Vishnu Naidoo, woordvoerder van die nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse polisiediens, sê: “Ons is tevrede dat ons al die mense wat verantwoordelik is vir die ontvoering van Amy’ Leigh agter tralies het, en die moontlikheid dat meer arrestasies gemaak sal word, is onwaarskynlik.”

Ons doen ‘n beroep op elkeen wat inligting oor misdaad het, om ons Crime Stop-nommer 086 00 10111 te kontak. Bellers kan anoniem bly en alle inligting sal met die grootste vertroulikheid hanteer word.

Navrae: Brigadier Vishnu Naidoo – 082 567 4153 woordvoerder van die nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse polisiediens