Twaalf bendelede gevonnis, nege lewenslank vir moord

Deel hierdie storie / Share this story

BLOEMFONTEIN – Twaalf lede van die vermeende Maroma-bende is vir die moord van ’n man (25) in die hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis. 

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder vir die Bloemfontein-polisie, sê nege van die beskuldigdes is lewenslank vir die moord op Mpho Phuroe (25) gevonnis. Drie verdagtes is tot 25 jaar tronkstraf opgelê.

Al twaalf bendelede is aan die oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad en vir dwarsboming van die gereg skuldig bevind. Hulle is ’n verdere drie jaar vir elk van die aanklagte gevonnis. 

Bende oorval man

Mbambo sê die voorval het omstreeks 23:00 op 5 Augustus 2017 plaasgevind. Phuroe en sy vrou het by hulle huis in Sejake Square, in Mangaung, Bloemfontein, gesit. Drie van die verdagtes wat aan die oorledene bekend was, het hom gevra om saam met hulle te gaan rook. 

Met hulle aankoms by ’n shantie het ’n groep Maroma-bendelede opgedaag. Die bende, insluitend die drie mans wat Phuroe gebring het, het hom aangeval.

Hulle het hom met skerp voorwerpe gesteek. Daarna het hulle sy liggaam in ’n kombers toegedraai en hom in ‘n oop gebied naby fabrieke uitgebrand.

Die polisie is deur ‘n verbyganger, wat rook naby die fabrieke gesien het, ingelig.

Saak suksesvol ondersoek

Mbabmo sê die saak is deur die Vrystaatse provinsiale georganiseerde misdaad-eenheid ondersoek, wat tot die suksesvolle vonnis van bendelede gelei het.

“Die familie van die oorledene het tydens die vonnisoplegging in die hof hul waardering teenoor die polisie en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) uitgespreek,” sê Mbabmo.