KIMBERLEY. – ’n Man en vrou het gister namiddag deur die strate hier geloop en was na bewering besig met ’n opname oor hoeveel kinders tussen ’n sekere ouderdom, in dié area woon.
Dit het sowat 17:15 in die Herlear-omgewing gebeur.
Kinders
Tanya Nagel, ’n inwoner van dié area, sê die man en vrou was in hulle vroeë twintigs. “Ek het hulle nog nooit vantevore gesien nie. Hulle het ook nie gesê van watter besigheid hulle is nie, net dat hulle ’n opname maak en wil weet of daar kinders tussen die ouderdom van twee en drie hier woon.”
Geen dokumentasie
Sy sê die twee mense het hulself ook nie voorgestel nie en het geen pamflette of ander dokumentasie by hulle gehad nie. “Al wat hulle gehad het, was ’n swart tablet. Die vrou het ’n blou naamplaatjie gehad, maar ek kon nie sien wat haar naam is nie.”
Sosiale media
Tanya het op Facebook gevra of enigiemand weet van hierdie opname en waaroor dit gaan. Talle mense het egter gesê hulle is nie bewus hiervan nie.
Waarkuwing
Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, sê dit is nodig om mense te waarsku en dat niemand moet deelneem aan sulke opnames of enige inligting vir hierdie mense moet gee nie. “Hulle doen niks krimineel nie, maar dit is gevaarlik om sulke inligting deur te gee.”



