NABADEEP. – ’n Man is lewenslank tronk toe gestuur ná hy ’n minderjarige kind hier verkrag het.
Willem Cloete (55) is gevonnis vir verkragting, seksuele aanranding en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die 11-jarige slagoffer was op 19 September 2017 omstreeks 17:00 op pad na haar tannie se huis toe sy deur ’n bekende man gelok is. “Die beskuldigde het belowe om haar R100 te gee en gesê hy sal haar na haar tannie se huis vergesel, aangesien hy ook in daardie rigting op pad was.
“Toe hulle die berg naby Concordia bereik, het hy haar aangerand, gewurg en verkrag.”
Cloete is twee dae later gearresteer. Sy borgtog is teengestaan en hy was tot sy onlangse vonnisoplegging in aanhouding.
Die beskuldigde is in die Springbok-streekhof tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Die vonnis is soos volg uitgereik:
- Lewenslange gevangenisstraf vir verkragting
- 10 jaar vir seksuele aanranding
- 2 jaar vir aanranding met die opset om ernstig te beseer
Cloete se vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.



