Kind uit ma se arms probeer ruk

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – ’n Baba is hier amper uit haar ma se arms ontvoer. Die voorval het verlede week in die middestad van Kimberley, naby binnelandse sake, gebeur.

Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, sê ’n saak van poging tot ontvoering is oopgemaak.

Middestad

Die ma, saam met die pa van die 20 maande oue dogtertjie, het in New Mainstraat gery. Die babadogtertjie het op die ma se skoot gesit.

“Hulle het by die verkeerslig by binnelandse sake stilgehou. ’n Onbekende man het toe na bewering die voordeur van die passasierskant oopgemaak en die baba van haar ma se skoot probeer trek,” sê Jansen.

Die pa van die babadogtertjie het uit die motor gespring om te keer dat die man hulle kind vat. “Die verdagte het die kind laat gaan en weggehardloop.”

Probeer help

Die dogtertjie se ma, wat anoniem wil bly omdat sy vrees vir haar kind se lewe, sê niemand het hulle probeer help nie. “Ons vermoed iemand het die verdagte gehelp, want toe my man uitklim en die verdagte probeer wegtrek, het iemand my man aan die hemp van die verdagte af probeer wegtrek.”

Sy sê hulle het nie gesien hoe die man lyk nie, omdat alles so vinnig gebeur het.

“Die man het my dogtertjie aan albei arms getrek en het veroorsaak dat haar armpies nou blou merke op het.”

Benodig inligting

Die polisiekantoor is op soek na iemand met inligting, ’n beskrywing van die verdagte of enige ooggetuies om Jansen by 084 958 4883 te bel. Die Crime Stop se tolvrynommer kan ook geskakel word by 0860 10111.